n Mens is so gewoond aan al die voorregte wat jy het, dat mens nie meer die mooi om jou sien nie.
Soos die engelse spreekwoord lui ons vat alles "for granted".
Vanoggend oppad werk toe sien ek die kosmos blommetjies langs die pad, en tussen die lang vaal gras is hulle in volle blom, pienk, pers, en wit. Dit gee kleur en lewe aan die vaalheid van die gras, terwyl herfs besig is om vinnig op ons toe te sak. Dit was mistig buite, en die karre op die highway is soos miere wat skarrel, van hierdie baan na daardie baan.
Dis doodstil in ons bakkie terwyl ons werk toe ry, elkeen is besig met sy eie gedagtes. Dan sien ek die son se strale deur die mis breek, en ek besef hoe gelukkig ons is om elke dag die son te sien op kom en dan weer in die aand die son te sien sak en die maan wat sy plek vul. Hoeveel mense is daar regtig wat dit as vanselfsprekend aanvaar? En hoeveel mense is daar wat dankie se daarvoor en dit regtig waardeer? Ek kan myself nie indink hoe ons wereld sou gewees het sonder n son en n maan nie. Kan myself net indink hoe donker en grou alles sou gewees het. En hoe donker die nag regtig sal wees sonder n maan en sterre om vir ons bietjie lig te gee, en alles in n blink glans te hul. Hoe sou ons wereld gewees het sonder bome en blomme? Ook maar bra vaal dink ek. Ek was n tyd gelede in die karoo en daar was geen blomme nie, net gras polle so ver as wat jou oog kan sien, en alhoewel dit vir baie mense mooi is, is dit vir my vaal en dood, so asof daar geen lewe is nie. Ek kan myself net indink hoe dit moet wees as ons hele wereld so moes gelyk het. Dan wonder ek hoeveel mense daar is wat dit werklik waardeer? Die blommetjies wat wild in die veld groei, en die groen bome wat skadu bied teen die hittige son?
Maar so ry ons toe nou werk toe, elkeen met sy eie gedagtes. Dis Vrydag vandag en n kort dag vir ons. Ek voel moeg want ek het nie regtig lekker geslaap nie, en ek dink hoe lank die dag voor my uitgestrek le. En dan skielik asof van nerens besef ek hoe gelukkig ek eintlik is om te kan se ek is oppad werk toe. Hoeveel mense is daar wat nie werk het nie, wat sukkel om werk te kry? Dan is ek dankbaar dat ek n werk het, en besef dat ek nie moet kla nie. Wat sou ek gedoen het as ek nie vandag kon werk toe kom nie omdat ek nie n werk het nie? Ek dink so rukkie daaroor na en besef dan dat my lewe vaal en vol bekommernis sou gewees het.
Ek wonder ook hoeveel mense daar is wat n werk het, en dan nie dankbaar daarvoor is nie? Ek kom tot die gevolgtrekking dat die mense spesie maar n ondankbare klomp wesens is.
Ek wonder ook hoeveel mense in die oggend wakker word, in n lekker sagte warem bed met n dak veilig oor ons koppe en die voeltjies hoor fluit, en dan stil n gebedjie opstuur om dankie te se vir dit alles? Ek wonder ook hoeveel mense elke dag dankie se vir hulle gesondheid, en dat hulle wakker kon word om al die wonderwerke van ons heelal te kan ervaar? Inteendeel hoor ek mense oral om my net kla, oor die slegte ekonomie van ons land, en omdat brandstof pryse alweer begin klim, oor kos pryse so hoog is, en omdat daar so baie "crime" in ons land is. Ek kom weer tot n gevolgtrekking: Mense is ondankbaar.
In plaas van dat ons dankbaar is vir al die klein wonderwerkies in ons lewens, soos kos, klere, n bly plek, n motor, kinders, ons eggenote, en vriende, gesondheid, welvaart,die voorreg om ons godsdiens vrylik te beoefen, en liefde wat ons vrylik kan uitdeel, n glimlag, en n woordjie van bemoediging, is ons altyd ondankbaar oor dit wat om ons aan die gebeur is, maar as ons geloof op die regte plek is sal ons nie bekommerd wees daaroor nie, maar eerder dankbaar wees vir dit wat ons alles het.
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment