Thursday, August 27, 2009

Geluk en hartseer

Die lyntjie tussen geluk en hartseer is amper net so dun soos die lyntjie tussen liefde en haat.
Vanoggend sit ek met n vreeslike knop in my keel, en n gat daar waar my hart moes gewees het.
Ek kyk na my man en sien die opgewondenheid in sy oe oor die uit sien na sy vis vang trippie, maar ek sit met hierdie vreeslike beklemming om my hart. Vanoggend het hy n oproep gehad van my vriendin se man wat se dat sy verkies dat hulle eerder hierdie vis vang trip moet kanselleer, en ek wonder hoekom al die mense om my vir wie ek omgee altyd moet seer kry deur my? Wat is my doel nou eintlik hier op aarde? Om net altyd almal om my te laat seer kry?
Skuldig of onskuldig?
Ek weet nie, maar een ding weet ek verseker ek vertrou mense te maklik, dit is een van my swak punte, my ander swak punt is dat my hart te gou jammer kry, en daardeur kry ek ook altyd seer, maar dit is wie en wat ek is, en dit sal seker nooit verander nie. Ek kan net nie verstaan dat niemand om my, my kan waardeer vir die goed wat binne in my is nie, of is daar dalk nie? Ek weet ook nie die antwoord daarop nie, maar ek weet dat ek altyd ander mense se geluk bo myne stel, en dit maak van my n lelike persoon? Niemand sien ooit die goed binne in my raak nie, almal wil my net altyd aanval en seer maak, en ek weet nie hoekom nie, miskien is dit omdat ek myself onbewustelik bloot stel daaraan, wanneer ek lief kry, is dit met soveel oorgawe dat dit my seer maak, wanneer ek kwaad word is dit met soveel passie dat dit ook seer maak, en maak nou nie saak of ek glo my besluite is reg nie, dit is altyd verkeerd in iemand anders se oe, en dan kry ek in elk geval seer. Ek mag nie my eie besluite neem nie, daar is altyd iemand naby wat dit vir my wil neem, en die dag wanneer ek dan opstaan en my voet neer sit, soos ek al soveel keer gehoor het ek moet doen, dan maak dit van my n slegte mens en is ek altyd die een wat konsuis die verkeerde besluit geneem het. Ek kan nie verstaan dat een mens so verneder en verkleineer kan word deur mense wat se dat hulle lief is vir my nie. Hoe ver strek hulle konsuise liefde vir my dan nou eintlik? Net tot die volgende keer wat hulle glo ek is verkeerd of het die verkeerde besluit geneem, dan is ek weer die slegste wat daar is.
Dit maak my so seer, dat ek soos n voeltjie in n hokkie vasgevang voel, soos n verwilderde bokkie wat alewig moet vlug voor haar aanvallers.
Ek weet nie ek weet net dat my hart leeg en seer voel, nie dat ek iets verloor het nie, want niks behoort ooit aan my sodat ek dit kan verloor nie, dit is net heeltemaal leeg binne in my, en dit alles net omdat ek altyd te veel omgee vir ander mense en hulle gevoelens.....

No comments:

Post a Comment