Friday, May 1, 2009

Dag 2: Donderdag 30.04.2009

Vanoggend het ek my oe oopgemaak, dit was dik en bloedbelope van die min slaap van die vorige nag, en skielik het ek onthou wat ek gedroom het. Ek het soos n pyl uit die bed geskiet en is sommer dadelik badkamer toe om te gaan was sodat ek kon aantrek vir werk. Ek was bewerig en kon nie vinnig genoeg alles gedoen kry nie. Op pad werk toe het dit vir my gevoel asof my man ekstra stadig ry, omdat ek gou by die werk wou kom sodat ek die Inspekteur wat se nommer by die werk in my dagboek geskryf is, kon bel om te hoor wat aan die gang is met my kind.
Die wereld het sy kleur vir my verloor, skielik het die mooi gekleurde kosmos blommetjies langs die pad nie meer vir my so mooi gelyk nie, die wolke was dik en grys en dit was asof die son nooit weer gaan skyn nie. En deur dit alles heen het ek my kind se verwese gesig voor my gesien. Alhoewel hy amper 21 jaar oud is, bly hy nog my kind en sien ek hom nog as n kind wat nie agter homself kan kyk nie. Sien hy het ouer geword maar nooit groot geword nie.
By die werk het ek dadelik die no gekry en gebel, toe die Inspekteur se stem aan die ander kant opklink het die woorde ook in my keel opgedroog, ek het nie mooi geweet wat om vir hom te se nie. Ek het hom gevra wat my kind gedoen het, asof ek nie geweet het nie, en vir n tweede keer het ek die hele onsmaaklike storie weer gehoor.
My kind het kort-kort gebel om te hoor of ons al oppad was, want hy het met sy hele hart en siel geglo dat ek en sy stiefpa, maar die enigste pa wat hy ooit geken het, al oppad was na hom toe. My hart het vir hom gebloei en ek moes skaamteloos jok, toe ek vir hom se ek probeer net my werk afhandel dan sal ek kyk of ons kan deur kom, terwyl ek geweet het dat my man dit nooit sou doen nie. Sien ek het ook nie n lisensie nie en kon dit nie waag om sover alleen te ry nie, tensy ek langs hom in die selle wou gaan sit.
Hy het gesmeek en gehuil en gesoebat, en ek kon niks vir hom doen nie, behalwe om hom te probeer kalmeer en moed in te praat.
n Ruk later, wat soos n ewigheid gevoel het, het sy pa se foon weer gelui en dit was weer hy, nou was hy amper histeries, hy was klaar in die hof en hy is borg geweier omdat hy die vorige dag weggehardloop het, hy het nou besef dat hy in die selle sal moet bly tot die 8 ste Mei wanneer sy saak weer sal voor kom. Hy het vir my so deur die huilery deur vertel dat hy nou sy foon se sim kaart in n ander ou se foon gesit het omdat sy battery nou pap was en nou kan hy niemand meer bel nie. Ek het besef hoe magteloos hy moes voel, want ek het dieselfde gevoel van magteloosheid ervaar. My hande was afgekap, en ek het besef dat ek niks vir hom kan doen nie, nie as die hof besluit het dat hy nie borgtog mag kry nie. Ek het hom probeer troos maar dit het nie veel gehelp nie, intussen het die groot knop in my keel gedreig om my te versmoor, maar ek mag nie nou huil nie, dit sal nie goed wees vir hom nie. Daar het n duisend dinge deur my gedagtes geflits, en my wereld het donker en hopeloos gelyk, en skielik het ek gewonder as dit vir my so lyk hoe moes dit nie vir hom lyk nie?
Hy moes alles deur maak en dit nog alleen ook, ek kon nie sy ouboet bel om te help nie want hy was halfpad oppad Kaap toe. Ek kon nie meer reg dink nie, my brein wou nie funksioneer nie. Ek het alles vir my man vertel en gehoop dat hy die seer in my binne kant sou raak sien, en miskien, net miskien sou daar iewers n stemmetjie in sy hart praat, sodat hy my na my kind toe sou vat, dan nie vir my kind nie maar dan terwille van my, vrou en ma. Maar dit het nie gebeur nie. Ek het nou net so afgesny van die wereld gevoel soos hy, hy wat nou in die "holding cell" was by die hof, die enigste prentjie wat in my kop vasgesteek het was die een waar hy in hierdie donker sel onder in die grond gesit het, met geen kontak met die buite wereld nie, tot afgesny van sy ma af.
My binneste was aan duisend stukkies. Die enigste plan waaraan ek kon dink om iemand by hom te kry wat bekend is, is om sy eie pa se sussie te bel en ek was tot bereid om haar te smeek as sy dit nie wou doen nie, ek het haar gebel en die hele storie aan haar verduidelik en sy het ingewillig om na hom toe te gaan en dan sal sy my bel. Die laaste woorde wat hy vir my gese het voordat sy foon dood gegaan het, was "I love you mom" en voordat ek kon se "I love you to" was die battery pap en was die enigste konneksie wat ek met hom gehad het afgesny.
Ons is huis toe en hierdie knop in my keel wat my wou versmoor het al hoe groter geword. Ek het nie lus gehad om kos te maak nie en toe my jongste meisiekind vra of ons kan gaan uit eet het ek sommer gebel en n tafel bespreek. So het ek en my man en my jongste twee kinders toe in die Spur opgeland. Ek het angstig gewag op my gewese skoonsussie se oproep maar my foon was so stil soos die graf. Net toe ek begin wonder of sy haar belofte om my kind te gaan sien, gestand gaan doen, toe lui my foon en dit is sy. Ek het die foon met bewerige vingers geantwoord. Ek wou weet hoe lyk my kind en of hy ok is, maar in die selfde asem was ek bang vir die antwoord. Sy het vir my gese dat sy hom so jammer gekry het, want hy lyk so verwese, maer, en verwaarloos....
Ek het swaar gesluk daaraan, en kon nie die kos op my bord sien toe die trane my oe vul nie, maar ek wou ook nie opkyk nie want ek wou nie die verwyt in my man se oe sien nie.....
Ons het afgelui, met die belofte dat ek die 8 ste Mei daar sal wees wanneer sy saak weer voor kom. Ek het n paar happies van my kos ingewurg, en n paar keer gevoel hoe dit dik word in my keel, terwyl ek die prentjie van my kind met n koppie koffie en brood in sy hand voor my geestesoog gesien het, en die verwese kyk in sy mooi blou oe, die trane het nou vrylik oor my wange gerol, ek het opgekyk vas in my man se oe, en dit wat ek daar gelees het, het my nog meer eensaam en alleen laat voel. Ek het die mense om my bekyk, ouers met kinders, groot en klein was langs die tafels, terwyl daar gelag en gesels word, en hulle n maaltyd saam geniet, en ek het so gewens dat ek net nog een keer my kind ook by my kon he en hom ook so gelukkig kon sien, aan een ete tafel saam met my en sy pa en sy boeties en sussies, gelukkig met n vonkel in sy oog.....maar dit was onmoontlik want bo en behalwe dat hy in n koue sel sit, was daar nie baie liefde vir hom van my man se kant af nie. Dit was amper asof hy hom doelbewus van my af wou weg hou. Hy het eers geweier om saam met my te gaan die 8 ste Mei vir die hofsaak, en toe ek se dat ek dan alleen sal gaan, het enige hoop wat ek nog gekoester het dat hy saam met my sal gaan ook soos mis voor die son verdwyn toe hy se dat ek dan maar my vriendin moet vra om saam te gaan.
Ek kon nie glo wat ek hoor nie, hy het nie besef hoe nodig ek hom nou het nie, my hart was aan flardes, ek het sy arms om my nodig gehad, maar inteendeel het ek eenkant alleen gesit en na binne gekyk soos na n foto. Dit was asof almal en alles so ver van my verwyder was dat ek nooit weer aan iemand sou kon raak nie. Die volgende oomblik het ek my meisiekind se arm om my nek gevoel toe sy my nader trek na haar toe, ek het my kop gebuig en sy het in my oor vir my gefluister dat sy baie lief is vir my. Dit het die trane net nog meer oor my wange laat stroom sonder dat ek n woord kon uit kry, al wat ek kon doen was om haar hand wat om my nek was n drukkie te gee.
Ons is huis toe, en in die bed het ek gele, op my kant en my man op sy kant, so ver van mekaar verwyder soos die ooste van die weste.....
Lank nadat ek hom hoor snork het, het ek nog wakker gele met my kind se gesig in my gedagtes, verwese, koud, en alleen....
Ek het myself aan die slaap gehuil sonder dat my man dit geweet het.

No comments:

Post a Comment