Toe ek my oe vanoggend oop maak sit ek met hierdie hol kol op my maag, my blaas sit onder my oe, en ek voel baie emosioneel en bang, ek dink die bang is die ergste...
Eindelik is ek en my man in die kar oppad na my kind toe, dit is stil in die kar terwyl die kilometers onder die kar se bande verby fluit. Dit is koud en mistig buite, en dit is presies hoe dit binne in my hart voel, koud, dood, mistig, en alleen.....
Terwyl ons nog so ry, toe ons hierdie klein dorpie uit ry, kyk ek op en sien die son agter n wolk, wil, wil deur breek. En ek sien dat die wolk n mooi silver randjie het, en skielik besef ek dat alle hoop nie verlore is nie, want elke wolk het tog maar n silver randjie, en wanneer die nood op sy grootste is, is die uitkoms gewoonlik baie naby. Ek onthou ook dat iemand al vir my gese het dat Ons Hemelse Vader jou nie oor n afgrond sal gooi, en jou dan net los nie, een van twee dinge sal gebeur, Hy sal vang wanneer jy val, of Hy sal jou leer vlieg....
Toe kry ek nuwe moed. Ek bid die hele tyd oppad soontoe sonder ophou, en smeek in gebed dat die Here my kind tog genadig moet wees, dat hulle hom nie te hard sal straf nie, maar dat Sy wil moet geskied, ek sal vrede maak daarmee.
Ons kom by die hof en die oomblik van waarheid het nou aangebreek, ek moet my kind nou sien.
Ek stap in by die hof en daar op die trappe wat na die "holding cells" lui staan hy, geklee in n swart lang broek en n leer baadjie wat my skoon suster gister vir hom gevat het. Hy is so maer, sy gesig lyk vervalle, sy hare is kort geskeer op sy kop, en sy oe is verward. Toe hy my sien gaan staan ek stil, en steek my arms na hom uit, hy loop in die kring van my arms in, en dan sluit ek my arms styf en beskermend om hom, terwyl die trane saggies oor my wange rol. Hy kyk verward rond en sien dan my man staan, skielik los hy my en stap na sy pa toe, dan wil hy sy pa om die nek val maar steek eerder sy hand uit, omdat hy nie seker is hoe om te reageer nie.
Ek sien die trane oor sy wange rol.
Die polisie beampte vat ons na n klein kamertjie langs die hof saal, en se dat ons daar so rukkie met hom mag praat. Nou kom die woorde vinnig sonder dat ek dink wat ek se. Hy moet skuldig pleit sodat ons die ding agter die rug kan kry.
Hy verstaan wat ek vir hom se, en ek verduidelik vir hom dat as hy tronk toe moet gaan hy nou sterk moet staan vir my, en sy kop hoog hou, sy straf uit dien sodat dit agter die rug kan kom. Ek verseker hom seker n honderd maal van my liefde vir hom, en dat ek daar sal wees wanneer hy sy straf klaar uitgedien het, sodat ek hom kan huis toe vat. Sonder dat ek besef wat ek doen, want ek het nie vir my man toestemming gevra nie, maar op daardie stadium het dit nie aan my saak gemaak nie, ek wou net my kind huis toe vat en hom n ordentlike bord kos gee, n warm bad , skoon klere en n warem bed om veilig in te slaap, met baie liefde daarby....
Maar ek het geweet dat dit nie moontlik is nie, want daar is nie n boete vir dit wat hy gedoen het nie, dit is tronk straf, het die staats aanklaer vir my gese die oggend, sy het dit ook duidelik gemaak dat sy borg gaan teen staan omdat hy ontsnap het, volgens hulle. En die hele tyd terwyl ek daar by hom is, se hy net dankie omdat sy pa saam gekom het, en dat hy nie wil tronk toe gaan nie. Hy sal enige iets doen, hy wil net nie terug gaan tronk toe nie, en my hart breek.
Dan sit ons uiteindelik in die hof en wag vir sy saak om voor te kom.
Toe sy saak van minagting van die hof klaar is, is hy gelukkig om weg te kom met n boete van R1150.00, wat ek toe vir hom gaan betaal, anders sou hy 2 maande tronk straf moes uit dien. Die verligting dat dit agter die rug is, was groot, dit voel asof die berg Arrarat van my skouers af is.
Toe is die hof verdaag. Ek staan weer by die trappies, en my kind vra of ek asb vir hom n vleis pasteitjie en n koeldrank sal gaan koop. Ek vra toestemming en hulle se ja ek kan maar vir hom gaan koop. Ek kom terug met die koeldrank en die vleis pasteitjie in my hande, ek staan onseker rond en weet nie wat ek nou moet doen nie. Dan kom daar n ouerige swart polisie man na my toe, en vra of ek dit self vir hom wil gaan gee, ek stap die trappies agter hom af, dit word donker en koud soos ons na onder gaan, hy sluit die deur oop en dan vang die stank my, ek snak na my asem maar se niks en stap gewillig agter hom aan na die "holding cells". My hart wil breek toe ek daar kom en my kind ager trallies sien. Die simpatieke polisie man sluit vir my die deur oop sodat ek die koeldrank en die vleis pastei vir hom kan gee. Hy verslind dit terwyl ek met hom praat, en in my hart is n gebed, sodat ek net my kind hier kan uit kry.
Genade bo genade laat die hof toe my kind gaan op n waarskuwing, die verligting was groot vir my en vir hom.....
Eindelik is ek en my man vyf uur die aand op pad huis toe nadat ons sy klere gaan haal het waar hy gebly het, en my hart weereens wou breek toe ek sien in watse klein hokkie my kind soos n hond in die jaard agter by mense moes bly, die deur kon nie eers op knip nie, wat nog van sluit, daar was nie eens n venster in die vertrekkie nie, dit het ingereen want die dak was van sinkplate, en daar was nie n ceiling nie. Sy enkel bedjie moes hy in die helfte deur sny sodat sy bed in sy kamertjie kon pas. Ek was woedend, en is dankbaar dat die eienaar van die huis nie op daardie stadium daar was nie, want ek dink ek sou hom dan te lyf gegaan het.
Ek is net dankbaar dat ek my kind daar kan weg vat. Hy sal nou eers by my skoon suster moet bly sodat ons by korrektiewe dienste toestemming kan kry sodat hy na ons toe kan kom, omdat hy onder huis arres geplaas is, hy moet elke dag by die polisie stasie aanmeld. Maar dit gaan goed met hom, en ons sal seker teen volgende week, die regte toestemming he om hom huis toe te bring.
My man was nie baie ingenome met my besluit nie, maar dit is hoe die hart in my borskas klop en hoe ek voel, op hierdie stadium is ek bereid om n leeu aan te vat vir my kind se veiligheid, en gesondheid.
Ek wil hom heel maak voordat ek hom weer die wereld laat aan pak, hy het dit nodig.
Al wat nou moet gebeur is ek moet vir hom n werk kry, voordat sy saak voor kom die 10 Junie.
Dan gaan hy gevonnis word vir ontsnapping en regsverydeling.
EK bid elke dag en glo dat daar n uitkoms sal wees vir hom dat hy iewers by iemand n werkie sal kan kry sodat hy nou ook stabiliteit in sy lewe kan kry. Hy is nou reg om aan te beweeg, en reg te maak waar hy gefouteer het......
Baie dankie aan almal wat my onder steun het deur hierdie moeilike tyd in my lewe.
n Woordjie van ondersteuning, bemoediging, gebed en geloof.......
Dankie aan almal ek waardeer dit opreg en weet dat hy dit ook waardeer al weet hy nie hoeveel ondersteuning ons gekry het nie.....
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment