Friday, May 1, 2009

Dag 3: Vrydag 01.05.2009

Vanoggend het ek my oe oopgemaak met trane wat oor my wange rol. Ek kon dit nie keer nie dit het net vrylik gerol, met my man wat rustig geslaap het langs my. My eerste gedagte toe ek my oe oopmaak was my kind. Ek het gewonder of hy al wakker was, en wat hy doen, of hy al gewas het, of hy skoon klere het? Ek het maar opgestaan en gaan koffie maak, en kon nie vinnig genoeg terug kom in die kamer om n sigaret aan te steek nie, met die hoop dat dit my emosies bietjie meer in toom sal kry. Ek het op die bed gaan sit langs my man, en kon die waremte van sy liggaam teen my voel, maar steeds het ek so eensaam en alleen gevoel, dit het gevoel asof ek die enigste mens op aarde is, asof niemand saam met my op hierdie grote planeet was nie. My hart was nogsteeds so seer dat dit wou breek, en dit het nie gelyk asof enige iemand dit opmerk nie. Voor my het die dag lank en uitgestrek gele, en ek het nie geweet hoe ek die dag ooit gaan verby kry nie, ek het gehoop dat, soos altyd, tyd my wonde sou begin genees, en die seer minder sou maak, maar dit het nie, vanoggend was die pyn net nog meer pertinent as gister. Gaan die pyn wat in my hart is dan elke dag erger word in pleks van beter?
Ek was dankbaar toe my vriendin my bel en vra dat ek haar hare moet kleur, nou het ek darem die vooruitsig gehad van iets om my hande en my gedagtes mee besig te hou.
Uiteindelik het ek haar hare gekleur, haar man se hare gesny, my skoon seun se hare gesny en my oudste meisiekind se hare gedoen. Vier ure het verby gegaan, terwyl ek besig was, en my gedagtes het nog steeds gedwaal maar nie so baie as wanneer ek stil sit nie, terug daar na n polisie sel met my kind daar binne....
Nadat ek nog so sarsie trane gestort het, en my hart so bietjie meer leeg was, het my vriendin hulle gery, en het ek gaan kos maak vir my gesin. Terwyl ek voor die kos potte was het ek weer eens gewonder wat my kind vanaand ge-eet het, of dit darem n bord warem kos was om die koue te verdryf en of dit net brood en koffie was? Die knop het weer in my keel kom sit. Teen hierdie tyd het dit gevoel of daar twee poele vuur was waar my oe moes wees, en of daar n lee gat was daar waar my hart moes wees. Ek het darem so deur die loop van die dag vir my gewese skoon suster n sms gestuur en haar gevra om vir my n foto van my kind te neem as sy weer na hom toe gaan en dit vir my stuur, sodat ek net iets het van hom, want met n skok het ek besef dat ek nie eers n foto van hom het nie. Ek het soos n slegte ma gevoel, want watter goeie ma het dan nie n foto van haar kind nie?
Ek het maar net weer n paar happies kos in my keel afgedwing, en toe maar gaan bad. Terwyl ek in n warem bad water sit met seep borreltjies daarin, het die trane weereens vrylik oor my wange gerol en ek het gesien hoe my trane in die bad val en die seep borreltjies laat bars, ek het gewonder of het hy darem die voorreg om ook te kan bad daar in die polisie selle, en of hy dan ten minste kon stort as daar nie n bad is nie? Ek het ook gewonder of hy skoon onderklere het, en of hy warem kry? My hart is aan flardes en ek is net so alleen soos hy daar in die selle, want alhoewel ek in n huis tussen mense is, voel ek ver weg verwyder van hulle almal, want hulle deel nie in die pyn en seer wat al hoe groter word in n mamma se hart oor haar kind wat in die tronk sit nie, dis n pyn wat net ek en hy deel, want hy ken ook eensaamheid, en verlange, verlange na n ma se drukkie, en soentjie, die verlange van die waremte wat net n moeder se liefde kan bring....

No comments:

Post a Comment